Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 02 Desember 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat ons bekend maak dat die sleutel van E I Terblanche, ZR2ET, onlangs stil geraak het.

Ons innige meegevoel gaan aan sy familie en vriende.

(POUSE).

IN DIE NUUS VANDAG:

SARL LANSEER DIE ANTENNA VERDEDIGINGSFONDS

ONTVANGERS VAN DIE MTN RADIO-AMATEUR-VAN-DIE-JAAR-TOEKENNINGS AANGEKONDIG

NOMINASIES VIR RAADSLEDE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.

SARL LANSEER DIE ANTENNA VERDEDIGINGSFONDS

Terwyl radio-amateurs van die aansoek doen vir die oprigting van radiomaste en –strukture laer as 15 meter vir sover dit aan omgewingsvriendelikheid moet voldoen, vrygestel is, is daar desnieteenstaande verpligte regulasies t.o.v. gebouebeplanning en soneringskemas waarvolgens amptelike goedkeuring verkry moet word en dit is ‘n absolute administratiewe uitdaging. Die vereiste gelde vir goedkeuring van 'n ‘n gebouplan byvoorbeeld verskil van gebied tot gebied en beloop ongeveer gemiddeld R2 000 per eenheid. Daarbenewens moet bykomende kostes ten opsigte van die advertensies ook in ag geneem word wat ongeveer ‘n bykomende bedrag van R3 000 kan beloop wat die totale koste vir slegs die basiese aansoek tot R5 000 kan opjaag. Verder is daar ook die moontlikheid dat ‘n regspersoon ‘n beswaar of besware mag voorlê wat komplikasies en regskostes ten gevolge mag hê.

Die Raad van die SARL het insgelyks besluit om ‘n beroep op die betrokke owerhede te doen ten einde radioamateurs van die vereiste vir die oprigting van radiomaste en ander antennastrukture laer as 15 meter van die huidige bouregulasies vry te stel. Ten einde hierdie doel te bereik, sal die dienste van kundige en gekwalifiseerde regs-, omgewings- en strukturele persone verkry moet word vir die voorbereiding van ‘n voorleggingsaak.

Op hierdie stadium van die verrigtinge blyk dit dat ‘n uiteindelike finansiële uitgawe van ongeveer R50 000 die SARL in die gesig staar. In die lig hiervan en ten einde hierdie allergrootste onderneming te befonds het die Raad besluit op die stigting van ‘n ANTENNA VERDEDIGINGSFONDS (AVF), en word derhalwe oë gerig na finansiële bydraes deur radio-amateurs. Om ‘n bydrae te bewerkstellig, kan ‘n elektroniese bankoordrag ten gunste van Die SA Radioliga by enige tak van die ABSABANK gemaak word – die rekeningnommer is 407 158 8849 en die takkode is 632 005. Stuur asseblief ook ‘n e-poskennisgewing na adf@sarl.org.za (adf vir antenna defence fund) tesame met die betalingstrokie met ADF, u naam en roepsein daarop. ‘n Webblad met aanduiding van die name, ens. van alle donateurs en inligting ten opsigte van die vordering van die projek sal opgestel word. Hierdie is ‘n ideale geleentheid vir SARL-lede, ASOOK NIE-lede vir hulle vrywillige bydraes vir ‘n baie belangrike saak vir amateurradio.

Die onderhawige projek sal tot die voordeel van ALLE radioamateurs wees, en aangesien dit u toekomstig ook positief sal tref, word ‘n ernstige beroep op lede gedoen vir vrywillige bydraes. Die Raad sal, in sy begrotingsvoorlegging aan die AJV gedurende April 2013, ‘n voorstel vir bykomende befondsing uit die opgehoopte fondse op ‘n R/R grondslag maak, met ander woorde, ‘n gelyke bydrae uit die reserwefonds teenoor die ingesamelde donateurbydraes.

ONTVANGERS VAN DIE MTN RADIO-AMATEUR-VAN-DIE-JAAR-TOEKENNINGS AANGEKONDIG

Tydens ‘n feestelike middagmaal gehou op Donderdag verlede week, is toekennings deur die Suid-Afrikaanse Amateurradio Ontwikkelingstrust is die 2012 MTN Radioamateur-van-die-Jaar-toekennings oorhandig.

Die MTN Radioamateur-van-die-Jaar-toekenning is aan Colin de Villiers, ZS6COL, vir sy ondersteuning van AMATEURRADIO EN DIE SARL toegeken. Colin is betrokke by die skepping en onderhoud van die SARL-databasis, noue skakeling met OKOSA vir die belyning van rekords van beide organisasies en ‘n legio IT-ondersteuningsprojekte vir die handhawing van die doeltreffende werking van die kantoor van die SARL. Sy jongste projek is die instelling van ‘n outomatiese stelsel vir erkenning van betalings en die uitstuur van die erkennings en wagwoorde vir die SARL-lede-afdeling van die webblad.

“Colin was van onskatbare bystand vir nie slegs ten opsigte van die SARL nie maar ook van amateurradio in die algemeen.” Het die SARL-Visepresident, Geoff Levey, ZS6GRL, in sy oordrag van gelukwensings aan al die wenners, gesê.

Die MTN Garth Milne Tegniese Innovasietoekenning het gegaan aan aan Frederich Wolff, ZS6FZ, vir sy tegnologiese bystand tydens die 2012 Radiotegnologie-in-Aksie symposiums, asook die ontwikkeling van ‘n sagteware gedefineerde radioprojek wat tot groot nut vir toekomstige RTA’s sal wees. Voormelde lid is ook die SARL se BHF-, UHF- en Mikrogolfbestuurder, verantwoordelik vir bandbeplanning en herhalerkoördinering.

Die MTN Amateurradio Gemeenskapsdienstoekennng het gegaan aan Keith Lowes, ZS5WFD, vir die rol wat hy speel in HAMNET KwaZulu-Natal, sowel as vir sy hulp en ondersteuning aan heelwat sportgebeure soos die Comrades Maraton en fietsrenne. Tans is hy besig met die samestelling van die span vir ondersteuning aan die jaarlikse Duzi kanomaraton.

Die drie toekenningsontvangers is hulle verworwe toekennings oorhandig deur Grace Mothusi, Senior Bestuurder Openbare Sektor van MTN Business. Dit het bestaan uit ‘n 2012 ARRL harde omslag handboek en Sertifikaat. Elkeen het ook R1 000 ontvang.

‘n Spesiale toekenning is ook gemaak aan Dawie Conradie, ZR6DHC, vir sy bevordering van amateurradio in “Amateur Radio Today” en op 'n gemeenskapradiodiens. Dawie ontvang ook ‘n 2012 ARRL Hardeband Handboek en ‘n Sertifikaat van Waardering. Sien meer op www.amateurradio.org.za.

NOMINASIES VIR RAADSLEDE

Die tyd om raadslede te nomineer en mosies voor te lê, breek nou weer aan. Die SARL versoek elke geaffilieerde klub om een of meer van hulle lede as raadslede te nomineer.

'n Raadslid moet deur 'n SARL-lid genomineer, en deur 'n ander SARL-lid gesekondeer word. By die nominasie moet 'n kort CV van die genomineerde se amateurradioloopbaan gaan, asook 'n ondertekende verklaring deur hom dat hy bereid is om as raadslid te dien. Raadslede moet verkieslik ervare amateurs wees wat enkele ure per week aan SARL-sake kan afstaan en wat per telekonferensie aan raadsvergaderings kan deelneem.

Die SARL maak ook uitvoerig gebruik van vrywilligers. Raadslede en baie ander amateurs met spesiale vaardighede, dra tyd en kundigheid by.

Om doeltreffend te werk, is baie verskillende vaardighede nodig. Tans blyk dit dat daar 'n behoefte is aan 'n jeugkoördineerder, vir amateurs met vaardighede in webwerf- en databasisadmininstrasie, aan 'n forum-koördineerder en aan 'n kantoorbestuurder, om maar 'n paar te noem. Daar is ook 'n behoefte aan amateurs met meer algemene vaardighede.

Stuur asseblief julle nominasies nou in, daar is geen voordeel daarin om tot die laaste oomblik te wag nie. Stuur nominasies aan secretary@sarl.org.za.

NUWE LEDE

Die SARL verwelkom die volgende amateurs en aspirant-amateurs as nuwe SARL-lede:
Petrus van Niekerk - ZSL1051
Warwick Chapman - ZSL1052
Kobus Chamberlain - ZSL1053.

PRETORIA AMATEURRADIOKLUB SOMER-SNUFFELMARK

Die Pretoria Amateurradioklub hou volgende Saterdag, 8 Desember 2012 hul laaste snuffelmark vir die jaar. Dit sal by hul gebruiklike plek by PMC in Keuningstraat, Silverton gehou word. Die aanvangstyd is 08:00. Indien u 'n tafel wil bespreek of meer inligting benodig, kontak Almero, ZS6LDP, by selnommer 083 938 8955 of per epos aan almero@up.ac.za.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat sonaktiwiteit aan die afneem is. Sonvlek AR1623 is die aktiefste en is kookwater met C-klas fakkels.

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 50.

Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 15 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl 20 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge gaan ook gereeld voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE
02 Desember - Die SARL Digitale Kompetisie.
8 Desember - Pretoria Amateurradioklub se snuffelmark beginnende om 08:00.
31 Januarie 2013 – Sluitingsdatum vir insending van nominasies vir Raadslede vir die volgende termyn en mosies vir die 2013 AJV.

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na “Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz en ook 'n podcast deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op “Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web’. 'n Heruitsending vind op Maandae om 18:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Ontvangsrapporte sal waardeer word. Ons is in die besonder geïnteresseerd in verslae oor ontvangs op 4 895 kHz aangesien dit naby aan die voorgestelde nuwe amateurtoekenning van 5 MHz is. Ontvangsverslae uit alle gebiede van Suid-Afrika sal waardevol wees vir ons aansoek aan OKOSA vir frekwensiestudies. Stuur verslae aan artoday@sarl.org.za.

Sentech voorsien die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, met vertalings deur Arthur Jordaan, ZS1AIJ, en dit is saamgestel deur George Honiball, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003